Litnet – Coffee Snobs wil positiewe boodskap oordra met nuwe enkelsnit “Sal jy”

Coffee Snobs - Sal Jy

“Ek het weer besef watse harde werk ware liefde is, of dit nou in ’n liefdesverhouding, gesinsverband of vriendskapsverhouding is. Ware liefde is om mekaar te dra, al is dit swaar. Dit is om mekaar vas te hou, mekaar regop te hou.”

“Ek het weer besef watse harde werk ware liefde is, of dit nou in ’n liefdesverhouding, gesinsverband of vriendskapsverhouding is. Ware liefde is om mekaar te dra, al is dit swaar. Dit is om mekaar vas te hou, mekaar regop te hou.”

Só vertel Vernette Wessels van die duo Coffee Snobs oor hulle nuwe inspirerende enkelsnit, “Sal jy”. Dié enkelsnit handel oor haar en Marius Wessels, haar man en medelid van Coffee Snobs, se verhouding en huwelik. Vernette vertel dat sy en Marius vanjaar 10 jaar getroud is en dat die lirieke handel oor hoe ’n mens jou geliefdes moet bystaan deur dik en dun.

Die lirieke vra onder andere: “Sal jy my dra, al is dit swaar? Sal jy my vashou, sal jy my regop hou?”

Die liedjie word begelei met ’n musiekvideo waarin die aangrypende verhaal van Tania van Twisk vertel word. Tania was agt jaar gelede in ’n ernstige motorongeluk, waarin sy haar rug en nek gebreek het. Teen alle verwagting in het sy dit oorleef, maar moes van voor af leer om die basiese dinge te doen, soos sluk en regop sit. Sy is op pad na herstel, maar sou dit nie kon regkry sonder die liefdevolle ondersteuning van haar naaste mense nie.

Vernette meen ’n mens word daagliks gebombardeer met “negatiewe nuus, hartseer, moord en haat”, en dat inspirerende stories soos Tania s’n nie genoeg in die media vertel word nie.

“Ek dink ons land se mense het nodig om sulke stories te sien en te hoor. Ware verhale wat mense hoop gee en bemoedig en wat hulle weer laat glo in liefde.”

Vernette vertel meer oor “Sal jy” se positiewe boodskap en die liedjie se musiekvideo.

Vertel ons asseblief meer oor julle nuwe enkelsnit “Sal jy” – waar kom die inspirasie vir die lirieke vandaan?

Ek en Marius is hierdie jaar 10 jaar getroud. Ek het een oggend vroeg met my kitaar gesit en sommer gedink oor die afgelope 10 jaar. Dit was ’n wonderlike tien jaar met baie goeie tye maar ook baie opdraandes, soos dit maar in elke huwelik gaan. Ek het weer besef watse harde werk ware liefde is, of dit nou in ’n liefdesverhouding, gesinsverband of vriendskapsverhouding is. Ware liefde is om mekaar te dra, al is dit swaar. Dit is om mekaar vas te hou, mekaar regop te hou. En dit is dan ook die lirieke van “Sal jy”.

Die musiekvideo vir “Sal jy” fokus op die inspirerende verhaal van Tania van Twisk – vertel asseblief meer oor hierdie uitsonderlike verhaal van haar.

Tania se storie is een van wonderwerke! Gaan kyk gerus na haar eie website, www.taniavantwisk.co.za, vir al die besonderhede oor haar ongeluk en pad van herstel. Sy was agt jaar gelede in ’n motorongeluk waarin sy haar nek en rug gebreek het. Haar kans op oorlewing was baie skraal, maar sy het ’n ongelooflike veggees en haar pad van herstel tot op hede is eintlik bonatuurlik!

’n Skermgreep uit die musiekvideo (Foto: YouTube)

Hoe het dit gekom dat julle besluit het om haar verhaal in die musiekvideo te inkorporeer?

Ek en Tania het mekaar op sosiale media raakgeloop. Ek het haar storie begin volg en was net verstom oor als wat sy aanpak en regkry. Toe ons die liedjie klaar opgeneem het, het die idee by my opgekom om haar vir die video te gebruik, juis omdat haar storie eintlik so perfek by die lirieke pas. Ek het haar gekontak en gevra of sy bereid sal wees om haar storie op hierdie wyse te deel en sy het ingestem.

Tania is self betrokke met die maak van musiekvideo’s en het baie nou saam met die vervaardiger gewerk aan die video. Dit was ook haar idee om haar familie in die video te gebruik – dis die mense wat haar gedra het en haar regop gehou het deur alles. En ek dink dit is wat die video so ongelooflik spesiaal maak, want dit is nie akteurs nie maar regte mense met hul emosies wat hierdie moeilike pad saam met haar stap.

’n Skermgreep uit die musiekvideo (Foto: YouTube)

’n Skermgreep uit die musiekvideo (Foto: YouTube)

Wat is die boodskap wat julle wou oordra met hierdie liedjie?

Ons word so gebombardeer met negatiewe nuus, hartseer, moord en haat. Stories soos Tania s’n word nie genoeg vertel in die media nie. Ek dink ons land se mense het nodig om sulke stories te sien en te hoor. Ware verhale wat mense hoop gee en bemoedig en wat hulle weer laat glo in liefde.

Wat hou die toekoms vir julle in – tree julle binnekort iewers op?

Ja, ons is lekker besig en het ’n hele rits optredes tot en met die einde van die jaar. Ons doen ook nog ons musikale produksie Donkernag Pantoen, wat deur Riana Scheepers saamgestel is, by verskeie geleenthede, insluitend Woordfees 2020! Mense kan gerus op ons webblad of Facebook-blad gaan loer om te sien waar ons optree.

’n Skermgreep uit die musiekvideo (Foto: YouTube)

0
    0
    Your Cart
    Your cart is emptyReturn to Shop