Coffee Snobs kry staande ovasie! Sjoe… Coffee Snobs mág maar musiek maak…. Met hulle produksie, Silhoeët, verlede Vrydag en Saterdag het dié liriese sangpaar weereens bewys dat hulle beslis die room van Afrikaanse musiekante is.
Menige harte het warm geklop van trots, nostalgie, en pure genot danksy hierdie puik, kwaliteit produksie. ArtSpace is trots om dit in Mosselbaai te kon aanbied. Vernette se suiwer fluweelstem het reg laat geskied aan van Laurika Rauch se treffers, onder andere twee treffers wat deur Vernette self gekomponeer is – Bly nog so ’n bietjie en Die Reis. Tussen die goue musiekdrade en stories deur het die Coffee Snobs van hulle eie treffers en meesterlike stukke, soos Valiant Swart se Sonvanger, ingeweef.
Die talentvolle Franco Engelbrecht het vir puik klavierspel gesorg (wie sal sy weergawe van Lisa se Klavier kan vergeet?) en op viool het Johan Engelbrecht se sensitiewe aanvoeling gesorg dat menige nostalgiese traan geval het.
Welgedaan aan hierdie puik musiekspan: die staande ovasies was welverdien. Ons sien uit na julle volgende produksie!